Lees: Mark 14:32-42
“Moet nogtans nie doen wat
Ek wil nie, maar wat U wil.”
(Mark 14:36)
Wanneer jy in gebed tot God nader, het jy altyd ‘n motief. Jy het óf ‘n ernstige versoek, óf jy wil Hom loof en dank, óf jy begeer ‘n intiemer verhouding met Hom. Wat ons dikwels vergeet, is dat gebed ‘n tweerigtinggesprek is: ons versoeke aan God en wat God vir ons kan doen as ons oop is vir sy leiding. Wanneer ons bid, glo ons dikwels dat ons weet hoe die Here moet antwoord,maar God se antwoorde is dikwels verrassend. Die Bybel leer ons: Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor = Jes 65:24.
Die spreekwoord: “Gebed verander dinge” is alleen waar as jy gewillig is om aan te pas by die veranderinge wat God vir jou voorberei het. Om te probeer om God in ‘n gietvorm van jou eie maaksel en
denke in te dwing, is om die geldigheid van jou gebed te vernietig en dit oneffektief te maak. Ware gebed moet ‘n vrywillige instemming met die wil van God wees en met die opgewonde verwagting dat God
net wag om Homself deur jou lewe tot openbaring te laat kom. ‘n Gewilligheid om jou gesindheid teenoor die lewe te verander, is ‘n voorvereiste vir sinvolle gebed. Om die teenwoordigheid van God binne te gaan met vooropgestelde idees, versper die vloei van sy heilige wil en die krag van sy Gees in jou lewe. Maak jou denke oopwanneer jy bid, maak jou gees vry van wat jy graag wil hê en laat jou primêre gebed eenvoudig wees: “Moet nie doen wat ek wil nie, maar wat U wil.”
Hoorder van gebed, maak my sensitief en gehoorsaam aan u heilige wil – Amen.
Dit is op die gebied van gebed dat die lewe se mees kritieke veldslae gelewer en gewen of verloor word. In gebed bring ons ons geestelike vyande tot in die teenwoordigheid van God en beveg hulle daar.
- J H Nowett -